Kiekieblik: Loopraamboeke

 Terug na HOME PAGE

My ouers het die twee boeke, MAG ONS VERGEET en MET DIE BOERE IN DIE VELD, besit, dit uitgeleen en soos dit met geleende boeke gaan, het hulle "nuwe eienaars" gekry.

MAG ONS VERGEET handel oor die afgryslikhede in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog (11 Oktober 1899 - 31 Mei 1902).

Die boek is oorspronklik in Engels geskryf, met die titel SHOULD WE FORGET, en in 1902 gepubliseer. Dit is vermoedelik hierdie uitgawe, wat weens die omstredenheid daarvan, verban is.

Die boek is later deur die skryfster vertaal en die eerste Afrikaanse uitgawe is in 1938 gepubliseer, die tweede uitgawe in 1940 en hierdie uitgawe is in 1942 gepubliseer.


Ek het vir baie jare probeer om dié boeke in die hande te kry, maar sonder sukses. Radio SA (vandag RSG) het destyds tydens deurnagprogramme 'n boekeprogram, "SOEK 'n BOEK" aangebied.

'n Boekversamelaar van Colesberg het gereeld ingeskakel. Ek het hom gekontak en halleluja, hy het eksemplare.

Hoe nou gemaak? Fanie kuier by Tom op Ceres, hulle is besig om huis te bou. Hulle maak toe 'n daguitstappie daarvan en gaan haal die boeke.

Ek het R400 vir die twee boeke betaal. Baie min vir onbekombare Afrikana.

So 'n ietsie oor Mag ons vergeet?

Die skryf van dié boek is moontlik gemaak deur 'n paar briewe te plaas van sommige van die 74 000 vroue en kinders wat die konsentrasiekampe beleef en oorleef het.

Mev. Neethling het baie moeite gedoen om self mededelings oor die ondervindings van mense te versamel, maar sy kon nie daarin slaag nie. Deur bemiddeling van 'n vriend het 'n mnr. Horak, redakteur van Die Transvaler en 'n versamelaar van oorlogsmemorabilia, sy kosbare geskrifte aan haar verkoop.


'n konsentrasiekamp tydens
die Anglo-Boere-oorlog
Vanselfsprekend sou dit nie moontlik gewees het om meer briewe te plaas nie. Die boek sou te dik en duur gewees het en dit sou ook vervelig gewees het, want die beskrywings van die kamplewe was min of meer dieselfde, party beter, party slegter.

'n Deel van die boek word ook gewy aan Emily Hobhouse, Britse pasifis, se simpatieke en onbaatsugtige betrokkenheid gedurende die oorlog en haar na-oorlogse opheffingswerk. Emily Hobhouse het na Suid-Afrika gekom en sy het met groot moeite verlof gekry om sommige van die konsentrasiekampe te besoek. Na alles wat sy gesien en deurgemaak het, het sy die boek THE BRUNT OF THE WAR geskryf.

Kort na die vrede in 1902 gesluit is, is mev Neethling deur genl Louis Botha na Europa gestuur om verslag te doen oor wat sy gesien en self ondervind het. Sy kon dus die waarheid van Emily Hobhouse se bevindinge bevestig.

Met Ma en Pa se 50ste huweliksherdenking in 1990, was hierdie kosbare boeke hulle geskenk van my af.

Die blydskap en verrassing van die twee sal my altyd bybly.





































Gaan blaai deur my skoolherinneringe HIER

No comments:

Post a Comment