Interessante statistiek: Sommige bladsye is net meer gewild as ander

Ek kan self baie moeilik kies tussen die bobbejaantjies
en die donkies, maar ek het gehoop hulle sal meer
kop aan kop loop. Ek sal met my lesers moet praat.
'n Donkie bly mos maar 'n wonderlike ding.

 

Onthoustories van jare terug ...

My ma was 'n natuurlike storieverteller. Sy het 'n gawe gehad om haar gehoor, maak nie saak of dit een of baie was nie, saam met haar op storiepaaie te vat waar jy met al vyf jou sintuie deel raak van die storie.

Hierdie was maar een van my ma se baie talente. En so al geselsende met 'n stukkie handwerk of kunswerk in haar hande, het sy die stories gaan opdiep. Rustig. Berekend. Met genoeg stiltes om haar gehoor op hulle tone te hou. En dan was daar altyd die glinstering in haar oë met 'n lag wat diep uit haar maag kom.

Van haar lekkerste stories was onder andere dié waarin sy een of ander stel afgetrap het en dit het sommer dikwels en ongevraagd gebeur. Hierdie stories het 'n goeie skoot humor gehad en soms moes jy fyn luister om die kinkel te snap.  

Die voorbeelde is van die internet 
geleen, sodat die leser die
gleufiebegrip beter kan verstaan.  
Een so 'n goeie dag sit sy op 'n houtbank op Belmont Stasie en wag vir die trein. Buiten haar tas, het sy ook padkos en 'n warm fles koffie. Daar was nie die ryke verskeidenheid flesse wat jy vandag kry nie. Die meeste van die koffieflesse was geruit - groen-geruit of rooi-geruit of blou-geruit. Die koffieflesse het 'n mens laat dink aan die Skotse manne met hulle geruite rokkies. Sy het so 'n bruin-en-beige-geruite fles gehad, met 'n dun rooi en groen strepie in. 

Later kom 'n man wat vir dieselfde trein wag op die ander punt van die bank sit. Op 'n stadium vang my ma se oog haar koffiefles en sy is sommer ontsteld omdat die gleufies nie skoon is nie. Sy haal terstond haar sakdoek uit en maak gleufie vir gleufie die fles skoon. En toe sy die laaste draai so vat, toe hou die man sy hand uit vir die fles en bedank haar hartlik vir die moeite wat sy gedoen het om sy fles skoon te maak. Verward kyk sy na haar padkos en tas en sien haar identiese, maar silwerskoon fles staan net daar waar sy dit neergesit het ... 

Eseltjiesrus se PRO's: Hansie en Grietjie

Klik HIER vir die artikel
 

Ek is so trots op my twee aangenome kinders, dat hulle oral waar hulle gaan, Eseltjiesrus se naam hoog hou. Eintlik is Hansel and Gretel twee Duits-balkende donkies, maar hulle verstaan genoeg Afrikaans en Engels om hulle stem dik te maak. Lees gerus die artikel waar hulle as ambassadeurs met Lizma van Zyl gesels en vir haar meer vertel van die nieregeringsorganisasie.

Vir Annemarie van Zijl wat ons gedagtes kan lees, 'n high five - Sy het vir Lizma gesê dat in ons gedagtes stem ons saam met die digter Peter Snyders … Ek’s oek important!

My tandestorie

Ek het 2 plate, nee, ek het stapels langspeelplate, van koorwerke tot volledige operas en -operettes. My stoof het sy eie wit-olifant-plate. Hierdie 2 plate het tande, is bedoel om mee te eet en albei is boplate.

**My eie groot- en oudword ondertande staan met hulle wortels in die graf, die doodsklokke het lankal begin lui maar hulle veg steeds om oorlewing.

**Die baie ou plaat, met die luukse van 'n stukkie goud, se ouderdom kan nie bepaal word nie, omdat daar nêrens enige rekords bestaan nie. Weens ouderdom en erge kou en kners, het die tande só afgestomp dat ek eintlik net ProNutro, roomys en jellie met vla kan eet. Lg eet ek nie - an insult to food - want dit is bedoel vir mense ná mangeloperasies. Hierdie plaat noem ek STOMPTANDE.

**Toe die tegnikus jare gelede die 'nuwe' plaat getand het, het hy nie geweet dat ek nie 'n perd het nie. Uit nood was ek verplig om hierdie plaat te aanvaar - beggars can't be choosers - ná al die jare maak hierdie tande my steeds nie opgewonde nie; ek vermy spieëls en ek glimlag net as ek gemasker is. 
Hierdie plaat noem ek PERRETANDE (perde). 

**Die voordeel van 2 plate is dat as die een plaat moeilik raak en pyn veroorsaak, gaan hy tandebakkie toe en ek kan die ander plaat inspan. Op dié manier kry elke plaat 'n beurt om te werk en 'n beurt om te rus.

**Stomptande was die afgelope paar dae baie rebels en het sóveel pyn veroorsaak, dat hy op pad is tandebakkie toe - dus Perretande se beurt. Gewoonlik borsel ek dan albei plate, een gaan mond toe en die ander een tandebakkie toe.

**Ek het Perretande goed geskrop, afgespoel en in my mond gesit. Ek het Stomptande vies, en met die lang tande, bygekom, geskrop, afgespoel, en heel in gedagte, óók in my mond gesit!

**Vir 'n vlietende sekonde het ek drie rye tande gehad! Guinness Book of Records, eat your heart out. Sien ek koerantvoorblaaie, TV- en radio-onderhoude, artikels in tydskrifte ...

**Maar Perretande was nie van plan om Stomptande vas te hou nie. Dit is nie in sy posbeskrywing nie en hy is nie 'n ma-bobbejaan nie. Hy het hom met 'n goed geoefende hou by my mond uitgeskop.

**Op die oomblik lê, sit of staan Stomptande in totale afsondering in die tandebakkie; hy het ook positief getoets vir nutteloosheid.

**Perretande is beloon met 'n handvol van PnP se lekker mengsel van rosyntjies en sultanas. Nie om dat hy veel beter as Stomptande is nie, maar omdat daar nie 'n derde plaat beskikbaar is nie.

**Einde** 

Dikhololo 2022 - die antidepressant van die moderne eeu ...

Die stres van stedelinge is duidelik waarneembaar as daar na hulle mediese rekeninge gekyk word. Daarom bied Dikhololo 'n natuurlike antidepressant vir 'n ieder en 'n elk wat deur die hekke van geluksaligheid ry. 

My jaarlikse wegbreek Dikhololo toe is 'n hoogtepunt. Om in die natuur te wees, help vir baie dinge - een daarvan is om stres te verlig. Elke mens het 'n jaarlikse dosis natuur nodig - dit kry jou emosioneel, geestelik en liggaamlik weer op die regte pad.

Ek koester elke oombik van my Dikhololo-ervarings en al die herinneringe wat ek bymekaar maak, dien as brandstof vir my stedelike bestaan

2022 se foto's HIER

Dikhololo-inwoners is die trekpleister vir stedelinge

 

Elke dassie prys sy eie kwassie.

So min van iets weet as 'n aap van godsdiens

'n Donkie stamp nie sy kop twee keer teen
dieselfde klip nie.



Pak sommer die bok by sy horings. 

Dikhololo-roomys vir die fynproewer.

Nog foto's HIER

Die entrepreneursbure van Dikhololo

Hierdie werksesels kry 'n mens net voor jy die poorte van Dikhololo binnery. Hulle staan rustig en wei in die skadu van die ou groot koeltereuse, voordat hulle laatmiddag weer huis toe gaan. Die plaaslike houtverkopers wat hout aan die vakansiegangers vir hulle braaivleisvure verskaf, maak van donkiekarretjies gebruik om hulle produkte te vervoer ... 'n gesig eie aan die Bosveld en die Karoo. Braaivleishout is 'n konstante bron van inkomste, wat 'n duidelike opbloei in vakansietye beleef ... die rustigheid wat hierdie langore uitstraal, staan oor die donkies se hele lyf geskryf, maar daar is diegene wat vir jou sal vertel dat dit pure luiheid is wat deesdae net 'n nuwe naam gekry het.