Onthoustories van jare terug ...

My ma was 'n natuurlike storieverteller. Sy het 'n gawe gehad om haar gehoor, maak nie saak of dit een of baie was nie, saam met haar op storiepaaie te vat waar jy met al vyf jou sintuie deel raak van die storie.

Hierdie was maar een van my ma se baie talente. En so al geselsende met 'n stukkie handwerk of kunswerk in haar hande, het sy die stories gaan opdiep. Rustig. Berekend. Met genoeg stiltes om haar gehoor op hulle tone te hou. En dan was daar altyd die glinstering in haar oë met 'n lag wat diep uit haar maag kom.

Van haar lekkerste stories was onder andere dié waarin sy een of ander stel afgetrap het en dit het sommer dikwels en ongevraagd gebeur. Hierdie stories het 'n goeie skoot humor gehad en soms moes jy fyn luister om die kinkel te snap.  

Die voorbeelde is van die internet 
geleen, sodat die leser die
gleufiebegrip beter kan verstaan.  
Een so 'n goeie dag sit sy op 'n houtbank op Belmont Stasie en wag vir die trein. Buiten haar tas, het sy ook padkos en 'n warm fles koffie. Daar was nie die ryke verskeidenheid flesse wat jy vandag kry nie. Die meeste van die koffieflesse was geruit - groen-geruit of rooi-geruit of blou-geruit. Die koffieflesse het 'n mens laat dink aan die Skotse manne met hulle geruite rokkies. Sy het so 'n bruin-en-beige-geruite fles gehad, met 'n dun rooi en groen strepie in. 

Later kom 'n man wat vir dieselfde trein wag op die ander punt van die bank sit. Op 'n stadium vang my ma se oog haar koffiefles en sy is sommer ontsteld omdat die gleufies nie skoon is nie. Sy haal terstond haar sakdoek uit en maak gleufie vir gleufie die fles skoon. En toe sy die laaste draai so vat, toe hou die man sy hand uit vir die fles en bedank haar hartlik vir die moeite wat sy gedoen het om sy fles skoon te maak. Verward kyk sy na haar padkos en tas en sien haar identiese, maar silwerskoon fles staan net daar waar sy dit neergesit het ... 

No comments:

Post a Comment