My tandestorie

Ek het 2 plate, nee, ek het stapels langspeelplate, van koorwerke tot volledige operas en -operettes. My stoof het sy eie wit-olifant-plate. Hierdie 2 plate het tande, is bedoel om mee te eet en albei is boplate.

**My eie groot- en oudword ondertande staan met hulle wortels in die graf, die doodsklokke het lankal begin lui maar hulle veg steeds om oorlewing.

**Die baie ou plaat, met die luukse van 'n stukkie goud, se ouderdom kan nie bepaal word nie, omdat daar nêrens enige rekords bestaan nie. Weens ouderdom en erge kou en kners, het die tande só afgestomp dat ek eintlik net ProNutro, roomys en jellie met vla kan eet. Lg eet ek nie - an insult to food - want dit is bedoel vir mense ná mangeloperasies. Hierdie plaat noem ek STOMPTANDE.

**Toe die tegnikus jare gelede die 'nuwe' plaat getand het, het hy nie geweet dat ek nie 'n perd het nie. Uit nood was ek verplig om hierdie plaat te aanvaar - beggars can't be choosers - ná al die jare maak hierdie tande my steeds nie opgewonde nie; ek vermy spieëls en ek glimlag net as ek gemasker is. 
Hierdie plaat noem ek PERRETANDE (perde). 

**Die voordeel van 2 plate is dat as die een plaat moeilik raak en pyn veroorsaak, gaan hy tandebakkie toe en ek kan die ander plaat inspan. Op dié manier kry elke plaat 'n beurt om te werk en 'n beurt om te rus.

**Stomptande was die afgelope paar dae baie rebels en het sóveel pyn veroorsaak, dat hy op pad is tandebakkie toe - dus Perretande se beurt. Gewoonlik borsel ek dan albei plate, een gaan mond toe en die ander een tandebakkie toe.

**Ek het Perretande goed geskrop, afgespoel en in my mond gesit. Ek het Stomptande vies, en met die lang tande, bygekom, geskrop, afgespoel, en heel in gedagte, óók in my mond gesit!

**Vir 'n vlietende sekonde het ek drie rye tande gehad! Guinness Book of Records, eat your heart out. Sien ek koerantvoorblaaie, TV- en radio-onderhoude, artikels in tydskrifte ...

**Maar Perretande was nie van plan om Stomptande vas te hou nie. Dit is nie in sy posbeskrywing nie en hy is nie 'n ma-bobbejaan nie. Hy het hom met 'n goed geoefende hou by my mond uitgeskop.

**Op die oomblik lê, sit of staan Stomptande in totale afsondering in die tandebakkie; hy het ook positief getoets vir nutteloosheid.

**Perretande is beloon met 'n handvol van PnP se lekker mengsel van rosyntjies en sultanas. Nie om dat hy veel beter as Stomptande is nie, maar omdat daar nie 'n derde plaat beskikbaar is nie.

**Einde** 

No comments:

Post a Comment