Vandag ploeg ek met 'n ander man se duiwe ...


Elizabeth Kendall het so 'n mooi gedig geskryf, met die volgende  byskrif daarby: "So baie duiwe in my tuin ... en elkeen sing sy eie vredeslied." Klik HIER, volg hierdie digter en geniet haar vars blik op dinge.

Ek dra hierdie gedig op as my vredeslied aan my dakduiwe wat my kort-kort nog die hoenders inmaak, maar ek verduur en verdra hulle, want is hulle nie die simbool van vrede nie?
 

Die strorie agter Brixton se sonsondergangfoto ...

Brixton se sonsondergange is baie mooi, maar daarvoor moet jy na plekke, hoogtes en dieptes loop. En dis hierdie deel wat my liefde vir sonsondergange en sonsondergangfoto's pootjie. Brixton is nie misdaadloos nie en om oop en bloot met my kamera foto's te neem, is om kitskos vir 'n skelm te gee - vinnig, waardevol en sonder moeite van sy kant af. 

Daarom het ek foto's vir Fanie gestuur van my beperkte en ingeperkte ruimte en gevra dat hulle 'n bietjie foto's in hulle omgewing moet neem en dan kan hulle sommer ook Strand toe ry vir mooi sonsondergangfoto's en dit aanstuur. Hierdie foto dien as bewys dat dit onmoontlik is om hier (by my) 'n mooi sonsondergang af te neem.

Klik *HIER en HIER om te sien dat daar wel dapper Brixtonners is wat mooi foto's neem of lank terug geneem het.
*Foto van FB en nog een *HIER
My liefde vir wolke en om wolke af te neem, is nog een van my baie passies. Die foto hierbo is 'n kombinasie van wolke en die vuur wat die son oor die wolke spuug net voordat dit die dag in Brixton in kleur vaarwel roep. Geen kunstenaar kan die Groot Kunstenaar naboots en 365 verskillende sonsondergange op een plek bied nie.

*Bron: FB Brixton Community News & Events

Sonsondergang in Brixton


Brixton sal nie in 'n reisgids geadverteer kan word met al die byvoeglike naamwoorde en werkwoorde wat 'n dorpie by die see byvoorbeeld te beurt sou val nie. Die holrug geryde goue strande, snorkeldiepsee- of rivierhengel, vlieërbrandery en watersport is nie van toepassing op Brixton nie. Maar Brixton se sonsondergange kan egter enige tyd meeding met die sonsondergange by die see.

George R. R. Martin het gesê dat as die son ondergaan, kan geen kers dit vervang nie.  

Ek wil graag met Ralph Waldo Emerson saamstem dat elke aand die belofte van 'n nuwe dagbreek bring.

Die tragiese is dat met al die misdaad die nuwe dag nie noodwendig vir die inwoners van Brixton beskore is nie. Elektriese heinings, lemmetjiesdraad, alarms en hoë mure hou nie die diewe uit nie, slegs die mooi natuurskoon, want in jou sel met 'n straatadres, moet jy liefs binnebly. 

Bedaarde en bejaarde bure 'n aanwins tot ...

Stil en saggies het hulle hul nes tussen die pilaar en die dak gebou. Geen grassie, stokkie of nesmeubels is op die stoep gemors nie. Verbasend. Dis nie hoe ek duiwe ken nie. Selfs die gereelde wit blertse wat hulle teenwoordigheid verraai, was afwesig. Ek weet. Ek is die een wat my stoep moet skoonmaak. Dus was ek aanvanklik onbewus van hulle teenwoordigheid. In een van hulle onbewaakte oomblikke vlieg hulle na hul huis, terwyl ek buite myne staan. 

Ek noem dit een Sondagaand vir Alda tydens een van ons gesprekke en simpatieloos stel sy voor dat ek hulle na sononder met water moet gooi - totdat hulle die pad vat. Hierdie is dié een indringer wat nie regte het nie. Hulle spesialiseer in mors ... veral op stoepe en voor jou voordeur, sodat dit lyk asof jou blyplek in pas met die omgewing is. Afhangende van watter vrugtebome of bessiebome hul vrug dra, verander die kleur van hierdie morsery.

Ek was heel tevrede met hul blyery, selfs hulle vryery, want hulle was stil bure - hulle lawaai nie, het nie hope vriende wat vir hulle kom kuier nie en ons gemeenskaplike stoep bly skoon. Ek het regtig geen rede om in die aand met 'n beker koue water hulle verblyfregte kort te knip nie.

Hulle lê eiers en nie lank nie, toe word ek ouma van twee geveerdes. Van die voordeur af het ek soos 'n nuuskierige buurvrou betaam, 'n goeie uitsig op die doen en late van die uitgebreide gesinnetjie. En dis net hier wat my lankmoedigheid kortstondig verander in ongelukkigheid. Hulle mors en bemors my stoeptrappie asof hulle wil opmaak vir die weke van netheid. Hulle weet dat mense se simpatie by die kleintjies lê en dat hierdie kleintjies in die nes hulle waarborg vir 'n sorgvrye blyplek is. Maar ek het nuus vir hulle.

Ek het gaan navorsing doen en volgens Google vlieg babaduifies eers na ses weke!! Ses lange weke van mors - ek hoop ek kan uithou tot dan. Die goeie nuus is dat duiwe nie weer dieselfde nes gebruik nie en indien hierdie ouers dit nie weet nie of dalk hulle kultuur wil verander, sal ek hulle aan dié lewensfeit herinner. 'n Mens kan ook jou helpende hand net so ver uitsteek, voordat die rumatiekpyne dit vir jou moeilik maak om heeltyd met 'n uitgestrekte arm te staan.

Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees - daar is nie ses kleintjies nie, net die ses weke!!