Bedaarde en bejaarde bure 'n aanwins tot ...

Stil en saggies het hulle hul nes tussen die pilaar en die dak gebou. Geen grassie, stokkie of nesmeubels is op die stoep gemors nie. Verbasend. Dis nie hoe ek duiwe ken nie. Selfs die gereelde wit blertse wat hulle teenwoordigheid verraai, was afwesig. Ek weet. Ek is die een wat my stoep moet skoonmaak. Dus was ek aanvanklik onbewus van hulle teenwoordigheid. In een van hulle onbewaakte oomblikke vlieg hulle na hul huis, terwyl ek buite myne staan. 

Ek noem dit een Sondagaand vir Alda tydens een van ons gesprekke en simpatieloos stel sy voor dat ek hulle na sononder met water moet gooi - totdat hulle die pad vat. Hierdie is dié een indringer wat nie regte het nie. Hulle spesialiseer in mors ... veral op stoepe en voor jou voordeur, sodat dit lyk asof jou blyplek in pas met die omgewing is. Afhangende van watter vrugtebome of bessiebome hul vrug dra, verander die kleur van hierdie morsery.

Ek was heel tevrede met hul blyery, selfs hulle vryery, want hulle was stil bure - hulle lawaai nie, het nie hope vriende wat vir hulle kom kuier nie en ons gemeenskaplike stoep bly skoon. Ek het regtig geen rede om in die aand met 'n beker koue water hulle verblyfregte kort te knip nie.

Hulle lê eiers en nie lank nie, toe word ek ouma van twee geveerdes. Van die voordeur af het ek soos 'n nuuskierige buurvrou betaam, 'n goeie uitsig op die doen en late van die uitgebreide gesinnetjie. En dis net hier wat my lankmoedigheid kortstondig verander in ongelukkigheid. Hulle mors en bemors my stoeptrappie asof hulle wil opmaak vir die weke van netheid. Hulle weet dat mense se simpatie by die kleintjies lê en dat hierdie kleintjies in die nes hulle waarborg vir 'n sorgvrye blyplek is. Maar ek het nuus vir hulle.

Ek het gaan navorsing doen en volgens Google vlieg babaduifies eers na ses weke!! Ses lange weke van mors - ek hoop ek kan uithou tot dan. Die goeie nuus is dat duiwe nie weer dieselfde nes gebruik nie en indien hierdie ouers dit nie weet nie of dalk hulle kultuur wil verander, sal ek hulle aan dié lewensfeit herinner. 'n Mens kan ook jou helpende hand net so ver uitsteek, voordat die rumatiekpyne dit vir jou moeilik maak om heeltyd met 'n uitgestrekte arm te staan.

Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees - daar is nie ses kleintjies nie, net die ses weke!! 

No comments:

Post a Comment